Hoê Medisynepryse

Medisynepryse kan nie hoër – ondanks swak rand

 SOOS GEPUBLISEER IN SAKE24 Jun 05 2013 07:07

 ’n Swak rand kan farmaseutiese groepe laat les opsê omdat die staat se enkeluitgangprys beteken dat hulle nie sommer medisynepryse kan verhoog nie.

“Plaaslike farmaseutiese maatskappye voer bykans al die aktiewe farmaseutiese bestanddele in wat hulle nodig het vir die vervaardiging van oor-die-toonbank- en voorskrifmedikasie,” sê Abdul Davids, hoof van navorsing van Kagiso Batebestuur.

Die rand se wisselkoers teenoor die dollar beteken dat die koste daarvan die hoogte inskiet, want dit word in dollar betaal.

“Baie van die groepe se marges het as gevolg daarvan verswak.”

Adcock Ingram se bruto winsmarge het in die ses maande tot 42,2% (46,7%) afgeneem. Dr. Jonathan Louw, uitvoerende hoof, sê Adcock verwag dat marges onder verdere druk gaan kom weens koste en die pryse van aktiewe bestanddele wat regstreeks aan wisselkoersbewegings gekoppel is.

Die gemiddelde wisselkoers waarteen Adcock in die oorsigmaande aankope gedoen het, was R8,75 teenoor die dollar (2012: R7,57) en R11,08 teenoor die euro (2012: R10,48).

Adcock genereer sowat twee derdes van sy omset uit voorskrif- en oor-die-toonbankmedisyne waarvoor aktiewe bestanddele ingevoer word.

Mededingers soos Aspen voel ook die druk. Hy besit wel sy eie aanlegte in die buiteland wat die bestanddele vervaardig, maar Davids sê die vervaardigingsaanlegte moet ook winsgewend bedryf word en kan dus nie die plaaslike afdeling ten koste van homself tegemoet kom nie.

“Dis ’n uitdaging om nie geld te verloor nie. Die onlangse aanpassing aan die enkeluitgangprys van 5% is nie baie groot nie en die volgende aanpassing sal eers oor sowat ’n jaar gedoen word,” sê Louw.

Adcock het produkte ontwikkel wat minder aan die enkeluitgangprys gebonde is.

Waar 80% van sy oor-die-toonbank-medikasie vyf jaar gelede daaraan onderhewig was, het hy die aanvullende produkreekse so uitgebrei dat net 50% nou daaraan onderhewig is.

Volgens hom kan farmaseutiese vervaardigers om ’n Regulasie 8- tussentydse verhoging van die enkeluitgangprys aansoek doen indien die vervaardigingskoste nog aansienlik styg.

Die maatskappye sal egter eers moet bewys dat hulle verliese ly.

 

Comments:

Write new comment:

No comments yet.