Suntan Lotions

SONBRANDROME/SUNTAN LOTIONS
11/12/2012 08:40:19 AM

 

SOOS GEPUBLISEER IN VOLKSBLAD VAN 7 DESEMBER 2012

DIE Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) is vroeër vanjaar in omstredenheid gedompel toe die uitslag van toetse op sonbrandrome op die Suid-Afrikaanse mark nie bekend gemaak is nie.

Die nuus het uitgelek dat talle van die produkte nie naastenby so doeltreffend is soos mens wil glo nie en Kansa is skerp gekritiseer dat hy nie met die hele sak patats vorendag gekom het nie.

Die toetse was ’n voorloper vir Kansa se planne om sy standaarde vir plaaslike sonbrandrome (wat Kansa se seël van goedkeuring dra) te verhoog, sê Sue Janse van Rensburg, uitvoerende hoof van Kansa.

Die probleem lê by beskerming teen UVA-strale.

“Navorsing oor die laaste paar jaar het gewys daar is ’n daadwerklike verband tussen UVA-strale en melanoom.”

Dié vorm van velkanker kom minder algemeen voor, maar dis dodelik en baie aggressief.

Navorsing in Kaapstad het gewys die voorkoms van melanoom hier is selfs hoër as in Australië – die land wat die onbenydenswaardige kroon dra as die streek met die hoogste voorkoms van velkanker wêreldwyd.

Daarom het Kansa sowat twee jaar gelede besluit om sy visier ook op die UVA-beskerming in sonbrandrome op die Suid-Afrikaanse mark te rig.

“In die verlede was die sonbeskermingsfaktor (SBF) gefokus op UVB, maar UVA-beskerming raak al hoe belangriker.”

Volgens Janse van Rensburg voldoen sonbrandrome op die Suid-Afrikaanse mark aan die riglyne van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) – so daar is ’n minimum standaard, maar Kansa wil daardie standaard nou verhoog.

“Van 1 April 2013 af moet alle sonbrandrome wat die nuwe Kansa-seël dra aan die Europese Colipa-standaard voldoen,” sê Janse van Rensburg.

Die omstrede toetse op sonbrandrome vroeër vanjaar was juis Kansa se pogings om voorlopig te kyk hoeveel produkte op die plaaslike mark aan die Colipa-standaard voldoen.

Voorheen is produkte wat in Suid-Afrika en byvoorbeeld ook Brittanje getoets is, nie aan voortoetsing onderwerp nie. Die nuwe proses behels dat chemiese middels teen UVA ook aan voortoetsing onderwerp word om te kyk hoe stabiel dit bly as dit aan UV-strale blootgestel word.

“Kansa het 35 sonbrandprodukte getoets wat tans op die mark is en meer as die helfte het nie aan Europese standaarde voldoen nie,” het dr. Carl Albrecht, Kansa se navorsingshoof, vroeër vanjaar op ’n kankerseminaar gesê.

Dit blyk dat van die grootste sondaars op ons rakke Amerikaanse produkte is.

Janse van Rensburg sê Kansa het nie destyds die toetsuitslae bekend gemaak nie omdat net sowat ’n tiende van die produkte op ons winkelrakke getoets is.

Boonop was dit voorlopige toetse (die hele proses is nie afgehandel nie), maar dit het gewys dat talle produkte te kort skiet.

Die toetse het gewys produkte op die plaaslike mark bied wel beskerming teen UVA-strale, maar die chemiese middels in die produkte bly nie lank stabiel as dit aan sonlig blootgestel word nie.

“Sulke produkte sou jy dus elke uur tot uur en ’n half moes aansmeer eerder as die gebruiklike twee tot drie uur,” sê Janse van Rensburg.

Met die nuwe seël wil Kansa aan verbruikers wys dat die betrokke sonbrandroom aan die Europese standaard voldoen.

“Die (vorige) Suid-Afrikaanse standaard het nie dieselfde stabiliteit as byvoorbeeld Europese produkte nie. Die verweerders van UVA kan gouer afgebreek word.”

Kansa lys op sy webblad talle sonbrandrome wat reeds aan die Colipa-standaard voldoen. Volgens Janse van Rensburg dra talle van die sonbrandrome nog nie die nuwe Kansa-seël nie omdat vervaardigers eers hul “ou” verpakking wil gebruik.

“Nog ’n klomp vervaardigers is besig met toetse sodat hul produkte ook die nuwe seël kan dra.”

En as jy onseker is, smeer daai sonbrandroom maar elke 90 minute dik aan.

• Vir meer inligting besoek Kansa se webblad by www.cansa.org.za.



Comments:

Write new comment:

No comments yet.