Anabolic Steroids

SOOS GEPUBLISEER IN VOLKSBLAD VAN 24.11.2012

Antoinette Pienaar


OLIMPIESE atlete wat betrap word dat hulle met anaboliese androgeniese steroïede (AAS) speel, kan vorentoe die risiko loop om ’n volgende Spele mis te loop.

Dit is as die wêreldagentskap teen verbode middels (Wada) se jongste voorstelle vir sy 2015-kode – om die skorsing van oortreders te verdubbel van twee tot vier jaar – aanvaar word.

Vir beroepsatlete wie se inkomste van hul sport afhang, is dit ’n hoë prys om te betaal.

Talle is waarskynlik terdeë bewus van die fisieke en psigiese gevolge van steroïedgebruik en waag “berekende” kanse om daarmee weg te kom.

Dis egter op die minder glansryke amateurvlak waar jong sportlui regtig met vuur speel, veral as hulle nog op skool is en neurologies en fisiek besig is om te ontwikkel, sê kenners.

In Suid-Afrika was die gebruik van AAS die afgelope tyd weer in die nuus toe ’n 17-jarige Cravenweek-rugbyspeler positief getoets is daarvoor.

’n Leser het geskryf hy is verstom om te sien hoe jong spelers op hoërskool binne weke in 100 kg-reuse ontaard. Hy glo dit is toe te skryf aan AAS.

Chris Hattingh van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) meen daar is ouers en afrigters, veral in welvarende skole, wat dalk anderpad kyk of selfs help dat die jonges dit kry.

Sedert 2008 is meer as 115 Suid-Afrikaners betrap dat hulle verbode middels gebruik, onder meer AAS.

AAS is aanvanklik ontwikkel as medisyne en word onder meer voorgeskryf om beengroei en aptyt te stimuleer en puberteit aan te help by seuns by wie dit vertraag is. Die ontdekking dat dit saam met die regte kosse mense se spiere laat bult en meer krag gee, het daartoe gelei dat dit gebruik word deur liggaamsbouers en sportlui.

Onwettig ingevoer

Dit word in gimnasiums gesmous of, volgens Hattingh, onwettig ingevoer van plekke soos Amerika, Indië en sekere Oosterse lande. Aptekers, dokters en veeartse het ook al daarmee gesmous.

Dit is onwettig omdat AAS ingevolge die Medisynewet geklassifiseer word as bylae 5-medisyne en dus net deur dokters om mediese redes voorgeskryf mag word.

’n Bron van die departement van gesondheid sê die onwettige verkope is “’n massiewe probleem”. “Dit word weekliks in- en uitgesmokkel. Die monetêre waarde daarvan is so groot dat mense wat gevang word eenvoudig nie afgeskrik word om dit weer en weer te doen nie.
“Daar is ook klandestiene laboratoriums wat die grondstowwe invoer en in haglike omstandighede steroïede vervaardig. Dit is spuitstowwe wat sommer in ’n oond ‘gesteriliseer’ word.

“Veterinêre steroïede is ook ’n groot probleem omdat dit aan mense verkoop word as sogenaamde ‘super-steroïede’.”

Die bron sê die meeste AAS waarop die polisie beslag lê, is nie in Suid-Afrika geregistreer nie en die veiligheid daarvan is nie vasgestel nie.

“Steroïede is ook nie goedgekeur as medisyne vir liggaamsbou nie. As ’n algemene praktisyn dit dus voorskryf daarvoor, oortree hy die wet.”

Die straf vir mense wat onwettige AAS besit, vervaardig, invoer of versprei, kan wissel van boetes tot tronkstraf.

Hattingh en dr. Jon Patricios, ’n Gautengse sportdokter, waarsku ook dat sportaanvullings wat wel wettig en vrylik op die mark beskikbaar is, besmet kan wees met steroïede sonder dat dit op die etikette aangedui word. Dié bedryf word swak gereguleer en dit is vir spelers moeilik om te weet watter produkte betroubaar is.

Weens die swak regulasies en moontlike gehalteverskille tussen sommige besendings weier Saids byvoorbeeld om enige aanvullings te onderskryf.

Volgens Patricios is die newe-effekte van AAS al goed omskryf in navorsing. “Hoewel die aknee, aggressie en depressiewe gemoedstoestand verwar kan word met ’n adolessent se ontwikkeling, is die hartvergroting, hoë bloeddruk en cholesterol, lewerskade en lae spermtellings dalk meer versteek en langdurend.”

Aggressie

Navorsers aan die Northeastern University in Boston, Amerika, het in eksperimente op hamsters bevind die brein se vermoë om serotonien te produseer word dalk deur AAS belemmer. Dit dra by daartoe dat gebruikers aggressief raak. Die aggressie bly glo lank nadat die AAS-inname gestaak word.

Adolessente se breinstelsels wat serotonien reguleer, ontwikkel nog en dit kan wees dat die AAS om dié rede blywende aggressie kan veroorsaak.

Patricios praat van “Roids ­Rage”. Die gebruikers raak geïrriteerd en beleef ’n hoë vlak van onbeheerste energie (manie).

Sommige ervaar selfs vals opvattings (delusies).

’n Studie het al in die laat 1980’s aan die lig gebring dat gewigoptellers ’n groter kans het om paranoïede delusies te hê.

Hulle was angstiger, depressiewer en vyandiger.

Dr. Harm Kuipers van die Universiteit van Limburg in Nederland skryf in die Encyclopedia of Sports Medicine and Science dat AAS ook gebruikers se seksdrang kan verhoog, al belemmer dit ereksies.


Dit tesame met die verhoogde aggressie kan selfs die moontlikheid van seksuele aanranding vergroot.

Sweedse navorsers het in 2008 in The Lancet geskryf gevallestudies is al gepubliseer van kragatlete wat AAS gebruik wat gewelddadig was teenoor hul vriendinne.

Navorsers het later gesê impulsiewe geweld kom veral voor wanneer AAS-gebruikers ook alkohol drink.

Volgens die 2011 Discovery Sharksmart-peiling onder 12 000 skoolkinders in KwaZulu-Natal het AAS-gebruikers ’n vier keer groter kans gehad as hul maats om by gevegte betrokke te wees en selfmoordgedagtes te hê.

Om mooi te lyk

Net 30% van die jong gebruikers wat aan die Sharksmart-peiling deelgeneem het, doen dit vir beter sportprestasie. Twee derdes het dit gedoen om goed te lyk.

Dié studie het getoon 4,6% van seuns en 1,2% van meisies het al AAS gebruik, sommige op so jonk as 13.

Altesaam 11% het gesê hulle was onder druk van afrigters of maats om dit te gebruik en byna 10% onder druk van hul ouers.

Altesaam 43% van die kinders het die AAS by hul vriende gekry, 20% by hul afrigters en gimnasiums, 14% by skoolpersoneellede, 10% by algemene praktisyns, 7% op die internet en 7% by hul ouers.

Dit is nie net mans nie

Saids se statistieke toon minstens 15 vroue, onder wie ’n rugbyspeler, liggaamsbouers, gewigoptellers en verskeie atlete, is sedert 1999 hier positief getoets vir AAS.

’n Studie onder 7 544 hoërskoolmeisies in 2003 in Amerika het getoon 5,3% het al AAS gebruik (teenoor 1,2% van Kwa-Zulu-Natalse meisies in die Sharksmart-peiling).

Dié meisies het nie noodwendig aan sport deelgeneem nie.

Hulle was meer geneig as hul maats om voor 13 seks te hê, tot swangerskap en drankoortredings, om wapens te dra, te ba-klei, hartseer en hopeloos te voel of selfmoord te probeer pleeg.

Volgens die navorsers aan die Oregon Health & Science University in Portland, Amerika, val die meisies makliker deur die krake omdat die owerhede meer op die seuns fokus.

SO BENADEEL STEROïEDE JOU

Algemene newe-effekte:

  • Erge velinfeksie as die middel met bakterieë besmet is
  • Hoë cholesterol
  • Bloedverdikking
  • Berorete
  • Insulsienweerstand
  • Nierversaking
  • Lewerprobleme
  • Akneë en olierige vel
  • Rekmerke
  • Geel vel en oë
  • Slegte asem
  • Swak senings
  • Naarheid en braking

ADOLOSSENTE

  • Stop die groei van die skelet se lang bene (in die arms en bene) - die persoon is uiteindelik dus korter as wat hy geneties bestem is om te wees
  • Voortydige geslagsontwikkeling

MANS

  • Haarverlies
  • Ontwikkeling van borsweefsel (ginekomastie)
  • Ingeperkte seksuele funksie en onvrugbaarheid
  • Tydelike testikulêre atrofie
  • Lae spermtelling

VROUE

  • Manlike haargroeipatroon (baard, borshare, ens.)
  • Growwe vel
  • Permanente verdieping van stem
  • Kleiner borste
  • Kan fetale ontwikkeling tydens swangerskap beïnvloed, bv. die ontwikkeling van manlike eienskappe in 'n vroulike fetus en vroulike eienskappe in 'n manlike fetus
  • Veranderede menstruele siklus
  • Siste op die eierstokke (vroue)
  • Vergrote klitoris

HARTPROBLEME

Hartvergroting en verdikking van die linkerventrikel wat die hart se sametrekking en ontspanning beïnvloed kan lei tot:

  • Hoë bloeddruk
  • Abnormale hartritme
  • Hartversaking
  • Hartaanval

PSIGOLOGIESE EFFEKTE

  • Beïnvloed die serotonievlak in die brein
  • Verhoogde aggressie
  • Angs
  • Maniese episodes
  • Selfmoord
  • Depressie
  • Geïrriteerdheid
  • Delusies (vals opvattings)


Comments:

Write new comment:

HolaBromz on 2018-03-19 01:51:41 AM

http://google0123.com/