APTEKERS DOODGEWURG DEUR WET, REUSE

SOOS GEPUBLISEER IN SAKE 24 VAN 24.08.2013

 

Aptekers doodgewurg deur wet, reuse

 

Deur: Nellie Brand-Jonker2013-08-24 23:29

Die klant is nog skaars deur die deur dan roep JC Potgieter van Tyger Manor Pharmacy al vriendelik hallo. Hy groet hom op sy voornaam. Is jy hier vir jou pilletjies?

Dit is die soort apteker wat al dekades in jou woonbuurt is, jou en jou kwale ken, weet wie jou huisdokter is en wat jou kinders se name is.Maar aptekers is onder druk. Net in 2012 het 91 apteke toegemaak, volgens die vereniging vir onafhanklike aptekers (Icpa).Potgieter – wat al 25 jaar ’n apteker is – sê hy kan al amper ’n boek skryf oor wat in die aptekerswese gebeur het.

Die enkele grootste probleem is moeilik om uit te lig.Hy meen dis die resepteringsgeld wat van 2004 af beheer word en dat die “korporatiewe ouens” – soos hy die groot winkelgroepe noem – ook met apteke begin het.In ’n onlangse peiling van die versekeraar PPS onder aptekers het 86% van die respondente gesê hulle voel bedreig deur die uitbreiding van apteke in groot kleinhandelwinkels.’n Klipgooi van mekaar in Bellville is twee groot winkelsentrums, Tygervallei en Willowbridge. Dan tik hy die apteke af: Clicks het nou ’n apteek binne en buite Tygervallei-sentrum, waar daar reeds ’n apteek was.“Toe kom Dis-Chem en sê die noordelike voorstede kan mos nie sonder ’n Dis-Chem nie en trek in Willowbridge in. Toe kry Shoprite ’n lisensie. Nou is Dis-Chem in Willowbridge-Suid en Shoprite se MediRite in Willowbridge-Noord.”

Toe Potgieter sy apteek drie jaar gelede na ’n ander perseel in Bellville skuif, moes hy in sy lisensie-aansoek kon bewys daar is ’n behoefte in daardie deel.Die idee met die verandering aan wetgewing ’n dekade gelede sodat nie-aptekers apteke kan open, was om apteke in onbediende gebiede te kry.“Dit klink goed, maar toe die korporatiewe ouens inkom, sit hulle almal in die sentrums en hulle maak almal daar oop.”Gemeenskapsaptekers het hulle uiteindelik tot die howe begin wend oor die maatskappye wat langs hulle apteke oopmaak, maar dit kos baie geld en dit is waarskynlik al te laat as daar na die snelle uitbreiding in maatskappye se apteke gekyk word.Boonop kan die groot groepe dit bekostig om afslag te gee op die resepteringsgeld.

Hy praat van die “26/26-regulasies” (sien onder die berig) wat in 2004 die resepterings­geld begin beheer het wat aptekers mag hef op die prys van medisyne.Hofsake oor die lae resepteringsgeld het gevolg en ’n hoër een is in 2010 ingestel. “Maar dit het nie regtig veel waarde nie,” sug hy. “Geen mediese fonds betaal daarvolgens nie en die korporatiewe ouens bly by die 26/26.”Dít is nie opdwingbaar nie omdat dit ’n maksimum prys is. Dié wat dit kan bekostig, kan ­laer resepteringsgeld vra.“Die maatskappye laat almal verstaan dat hulle so wonderlik is, maar hulle doen dit nie om aptekerswese te bevorder nie, hulle doen dit om meer voete by die deur in te kry.“Hulle hoef nie uitsluitlik wins op hul medisyne te maak nie. Hulle maak hul wins op die ander gedeeltes.”

Nog ’n kopseer is aangewese diensverskaffers. Chroniese medisyne is ’n voordeel wat mediese fondse ingevolge wetgewing verplig is om aan lede te bied. Die fondse mag hul finansiële las verlig deur aangewese diensverskaffers te kontrakteer.Dié aangewese diensverskaffers is meestal die korporatiewe apteke, volgens Potgieter. Hy kan dit nie verstaan nie.Mediese fondse “beboet” hul lede met tot 30% as hulle nie by ’n apteek binne die aangewese netwerk diensverskaffers chroniese pille koop nie.“Hulle sê ons weet jy laaik jou apteker, maar as jy jou pille by hom kry, betaal jy 30% meer.

Die ekonomie is van so aard dat baie mense dit nie kan bekostig om daai 30% te betaal nie . . . al braai hulle oor die naweek by jou. En ek kan nie bekostig om hulle daardie afslag te gee nie, want dan verkoop ek die produk onder die kosprys.”Hy sê eers het hulle klante aan die Clicks of Dis-Chem naby hulle afgestaan.

Nou verloor hulle klante weens die aangewese diensverskaffers.Hoeveel sake hulle verloor, is moeilik om te sê. Hy maak ’n duimsuig-beweging. “Ek sal sê dis 30%, maar die volgende ou sal sê dis 50% of 80%.”Maar hy voel dit “baie beslis” aan sy geldsake.

Minder klante beteken die omset groei nie saam met uitgawes, wat met inflasie styg, nie.“Dis ’n drukgang . . . ’n Mens vat tog ’n risiko met ’n onderneming. Aptekers lewe seker nie sleg nie, ek wil nie kla met die witbrood onder die arm nie. Maar as jy kyk na sommige ander bedrywe, kan die meeste ouens hul onderneming laat groei en word hulle nie so in wetgewing vasgevang nie.”Hulle het ook die impak op ander ondernemings gesien wanneer die groot winkelgroepe op hul gebied begin speel het: ysterwarewinkels, klein kafees, drankwinkels.“Maar ek het nooit gedink in ’n professionele beroep sou ons dit sien gebeur nie. Ons word deur wetgewing doodgewurg . . .”

Reseptering

So werk die resepteringsgeld:

Op ’n apteekrekening verskyn die resepteringsgeld onder die prys van die produk. Dis die inkomste wat die apteker op medisyne hef.Resepteringsgeld is ingestel toe prysbeheer op medisyne ingestel is. Dit het verseker dat medisyne landwyd teen dieselfde prys aan almal verkoop word – die sogenaamde enkeluitgangsprys.Die resepteringsgeld was aanvanklik 26% van die enkeluitgangsprys tot ’n maksimum van R26, ongeag die produk se prys. Dus sou die resepteringsgeld van ’n produk wat R2 000 kos, R26 wees en dié van ’n R10-produk R2,60.Die konstitusionele hof het gesê dis onvanpas en dié gelde is in 2010 herbeding.Nou word ’n formule gebruik wat verskil na gelang van die prys van die produk.

 

Comments:

Write new comment:

No comments yet.