COST OF MEDICINE/KOSTE VAN MEDISYNE

Medisyne se koste gaan nog styg

Nellie Brand-Jonker

VOLKSBLAD - Dinsdag 29 Julie 2014

Mediscor het in 2013 gemiddeld R2 424 per begunstigde aan medisyne bestee.

Die jaarlikse verslag van Mediscor oor die besteding van siekefondse op medisyne toon dit het verlede jaar met 1,9% tot R2 424 per begunstigde gestyg.

Madelein Bester, voordeelbestuurder van Mediscor, het dit toegeskryf aan die maksimum prysverhoging van 5,8% wat die departement van gesondheid verlede jaar op medisyne toegelaat het.

Die styging was die hoogste in jare. Vergeleke daarmee was die prysverhoging in 2012 meer as 2% en in 2011 is geen prysverhoging toegelaat nie.

Die styging in die besteding op medisyne hang af van onder meer die gemiddelde koste per item wat gekoop is. Die gemiddelde koste per item het met 2% tot R140 gestyg. Die gemiddelde koste per item hang weer af van ’n aantal faktore insluitende die staatsbeheerde verhoging in medisynepryse.

Mediscor, wat medisyne-eise vir siekefondse bestuur, stel die verslag jaarliks saam uit ’n steekproef van sowat 900 000 mediesefondslede. Bester het gesê ’n mandjie van dieselfde produkte wat hulle elke jaar meet om die impak van staatsbeheerde prysstygings te meet, het getoon dit het in 2013 met 2,9% gestyg. In die vorige jaar het dit met 0,4% gestyg.

Sy glo die besteding op medisyne gaan vanjaar met effe meer styg.

Dit is omdat die departement vanjaar ’n 5,82%-prysstyging toegelaat het. Die mandjie van produkte wat gemeet word, het reeds met gemiddeld 4,3%van Januarie tot Mei gestyg.

“Meer vervaardigers het in 2014 ’n styging toegepas wat nader aan die maksimum toegelate prysverhoging was,” het sy verduidelik.

Christo Rademan, besturende direkteur van Mediscor, het gesê die hoër koste van medisyne plaas bykomende druk op siekefondse gegewe hoe hoog mediese inflasie is. Mediese inflasie styg jaarliks baie meer as verbruikersprysinflasie.

Hy het gesê die beheer van medisynekoste deur middel van maatstawwe soos generiese medisyne en voorgeskrewe medisyne-lyste word al hoe belangriker.

Volgens Bester is die kostestyging per item in 2013 vir skemas laer as die mandjie wat hulle meet vanweë die maatstawwe wat geïmplementeer word. Sy het gesê die grootste impak is gekry deur middel van generiese medisyne.

Die meeste produkte wat in die afgelope jaar teruggeëis as, sowat 74,8% was generiese produkte. “Die voortgesette toename van generiese medisyne bring ’n wesenlike besparing vir verbruikers en vir siekefondse mee,” het sy gesê.

Top-10-toestande waarop siekefondse* geld bestee (persentasie besteding in hakies)

  1. Bloeddruk (11%)
  2. Kanker (6,3%)
  3. Diabetes (5,8%)
  4. Anti-depressante (4,4%)
  5. Maagsuur (4,3%)
  6. Cholesterol (4,2%)
  7. Anti-viraal (hoofsaaklik MIV) (3,1%)
  8. Anti-inflammatories (2,8%)
  9. Hoesmedisyne en asmaprodukte (2,7%)
  10. Antibiotika (2,7%)

* Siekefondse wie se medisyne-eise deur Mediscor bestuur word.

2013: Só het siekefondse op medisyne bestee

Comments:

Write new comment:

No comments yet.