INENTINGS

Volksblad 26/05/2015

Die meeste ouers hou noukeurig by hul kinders se inentingskedule, maar hoeveel volwassenes laat hulle teen voorkombare infeksies inent? Rochélle Human doen verslag oor die inentings wat volwassenes behoort te kry. Die doel van inentings is om vatbare mense te beskerm: Pasgebore babas, ouer mense en diegene met siektetoestande wat hul immuunstelsel onderdruk. ’n Mens se immuunstelsel verswak van nature met ouderdom en so ook die doeltreffendheid van inentings wat in die kinderjare gedoen is.

Kinkhoes kom tans weer by volwassenes voor omdat die inentings wat hulle as kinders gekry het nie meer so doeltreffend is nie, sê dr. Allison Glass, ’n kliniese viroloog van Lancet Laboratories.

Daar word ook gedurig nuwe inentings ontwikkel.

’n Inenting teen hepatitis B, die seksueel oordraagbare virus wat lewerskade kan veroorsaak, het eers in die middel 1990’s deel van die pediatriese inentingsprogram geword. Enigiemand ouer as 20 het dit dus waarskynlik nie gekry nie.

Sommige inentings is spesifiek op volwassenes gemik om siektes te voorkom waarvan volwassenes ’n groter risiko het, soos gordelroos en die menslike papilloomvirus (MPV).

Die doel van inentings is om individue wat vatbaar vir infeksies is te beskerm, sê Glass.

“Jonger volwassenes se immuunstelsels is nog gesond. As hulle ingeënt word, het hulle gewoonlik ’n goeie immuunreaksie op die entstof. Só voorkom hulle dat hulle die betrokke infeksie kry en mense aansteek wat dalk meer kwesbaar is.”

In die VSA is daar jaarliks sowat 60 000 sterftes weens siektes wat deur inentings voorkom kan word. Die meeste daarvan is volwassenes. Daar is nie soortgelyke statistiek vir Suid-Afrika beskikbaar nie.

Hier is van die belangrikste inentings vir volwassenes:

Tetanus Tetanus (of klem-in-die-kaak) kom danksy die inenting daarteen nie meer baie voor nie. ’n Mens se immuniteit daarteen neem egter af wanneer jy volwassenheid bereik, sê Glass.

Tetanus veroorsaak erge spierspasmas en kan intensiewe sorg en ventilasie noodsaak. Dit veroorsaak dood in sowat een uit elke tien gevalle.

“Ek het jare laas ’n geval gesien,” sê sy.

“Die laaste geval was by die Pretoria- akademiese hospitaal (nou die Steve Biko- akademiese hospitaal). ’n Plank het teen ’n vrou wat in die tuin gewerk het, geval en haar been lig gesny. Bakterieë van die grond het in die sny gekom en sy het tetanus gekry.”

Medici beveel ’n versterker-inenting elke tien jaar aan.

Influensa (Griep)

Voorkom dié winter erge griep deur betyds ingeënt te word. Foto: iStock

Griep (veroorsaak deur die influensavirus) kan ernstige siekte in vatbare individue veroorsaak en selfs noodlottig wees.

In Amerika word sowat 226 000 mense jaarliks weens influensa in die hospitaal opgeneem. Tot 49 000 mense (meestal volwassenes) sterf jaarliks, afhangend van hoe dodelik daardie seisoen se griepsoorte is.

Kenners beveel aan dat alle mense ouer as ses maande jaarliks teen griep ingeënt word.

Volgens die gesondheidsorggroep Netcare is dit dié winter belangriker as ooit dat ’n mens teen die griepvirus ingeënt word.

 

Comments:

Write new comment:

No comments yet.