E-Sigarette

E-Sigaret kan springmielie-longe veroorsaak.

Volksblad  26/05/2016

 

Navorsing wys dat die geurmiddels in sommige e-sigarette met longsiektes verbind kan word.

 

E-Sigarette word dikwels as die meer gesonde alternatief van tabak-sigarette gesien.  'n Nuwe studie deur die Harvardskool van openbare gesondheid in Amerika dui daarop dat hierdie sigarette ander gesondheidsrisiko's as gewone sigarette mag inhou.  Die studie is in die joernaal Environmental Health Perspective gepubliseer.

 

Luidens die studie kom diasetiel, 'n geurmiddel wat aan gevalle van ernstige longsiektes verbind word, in 75% van gegeurde e-sigarette voor.

 

Onder hierdie siektes is die ongeneeslike "popcorn lung".

 

Navorsers sê hierdie siekte het sy naam gekry nadat dit die eerste keer voorgekom het in werkers wat die kunsmatige bottergeur in springmielie-fabrieke ingeasem het.

 

"Popcorn lung" veroorsaak skade aan die klein lugsakkies in die longe en lei tot ernstige hoesbuie en 'n tekort aan asem.

 

Meer as 7000 soorte gegeurde e-sigarette en e-sap (vloeistof wat nikotien bevat en in hervulbare e-sigarette gebruik word) is op die oomblik beskikbaar.

 

Prof Joseph Allen en sy kollegas het 51 van hierdie sigarette en vloeistowwe getoets vir die aanwesigheid van diasetiel, asetoien en 2,3-pentaandioon, drie verwante geurmiddels wat albei met longsiekte verbind word.  Minstens een van die drie geurmiddels is in 47 van die getoetsde geure aangetref.

 

"Die gevaar wanneer mense gegeurde chemikalieë inasem, is reeds 'n dekade gelede gesien toe mense met 'popcorn lung' gediagnoseer is.  Nietemin kom diasetiel in verskeie ander geurmiddels, soos alkoholgeure en e-sigarette met lekkergoed-geure voor," se Allen.

Comments:

Write new comment:

No comments yet.