Regering hou jou medikasie duur

Regering hou jou medikasie duur

Deur Johan Eybers (Volksblad 30 Oktober 2016)

Suid-Afrikaners betaal tot 94% meer vir lewensnoodsaaklike medisyne as in ander lande omdat talle patente op omstrede maniere toegestaan en verleng word.  Navorsing wat deur die organisasie Fix Our Patent Laws gedoen is om druk op die regering te plaas om sy patentwetgewing te hervorm en medisynepryse te verlaag, toon onder meer dat middels wat hier amper onbekostigbaar is, lank reeds toeganklik is in ander lande.

Patentwetgewing gee patenthouers soos farmaseutiese maaskappye om nuwe produkte te ontwikkel,  maar drukgroepe sê die Wet op Patente word uitgebuit ten koste van armes.  Fix Our Patent Laws sê in sy navorsingsverslag die bors- en maagkankermedisyne Herceptin (generies bekend as trastuzumab) kos hier R485 800 per maand terwyl 'n generiese middel in Indië sowat 70% goedkoper is.  Die patenthouer van die middel het in 2013-14 al meer as R100 miljoen uit plaaslike verkope verdien en hul plaaslike monopolie verval eers in 2027, sê die organisasie.  Velcade (bortezomib), 'n chroniese middel vir nierbehandeling, is ook plaaslik 75% duurder as in Italië.  Die patenthouer, Janssen, het beskerming tot in 2015 in Suid-Afrika gehad, maar daar is 'n hangende aansoek om die patent tot 2035 te verleng.

Selfs waar patente nog geldig is, gee internasionale ooreenkomste oor intellektuele eiendomsreg lande 'n agterdeur om noodsaaklike medisyne goedkoop te laat vervaardig deur verpligte lisensies uit te reik.  'n Generiese vervaardiger wat ingevolge 'n verpligte lisensie medisyne vervaardig, betaal dan net lisensiegelde aan die patenthouer.  Hoewel lande soos Indië verpligte lisensies uitreik, het Suid-Afrika sedert die ontstaan van die wet in 1978 nog nooit 'n verpligte lisensie uitgereik nie.

"Ons navorsing wys dat verouderde patentwetgewing, die regering se onwilligheid om patente te reguleer en farmaseutiese maatskappye wat dit misbruik tot hul eie voordeel, die oorsaak is van onbeskostigbare medisyne," sê Lotti Rutter, woordvoerder van die Treatment Action Campaign en lid van Fix Our Patent Laws.  Die gevolge is dat mediese fondse nie bereid is om vir hierdie lewensnoodsaaklike medisyne te betaal nie en Jan Alleman dit ook nie kan bekostig nie, sê sy.

Prof. Yousuf Vawda, 'n kenner van mediese patentreg aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, sê die grootste frustrasie is dat hoewel internasionale handelsooreenkomste vereis dat patentbeskerming vir hoogstens 20 jaar moet geld, kry farmaseutiese maatskappye dit reg om hul patente plaaslik tot 30 of self 40 jaar te verleng.  Suid-Afrika ken 'n hoër persentasie farmaseutiese patente toe as Westerse Lande, selfs Amerika en Europese state.

Patente hier gee 'n 20 jaar monopolie op nuwe deurbraakmedisyne, asook 'n opeenvolgende 20 jaar monopolie op byna elke soort klein verandering aan die medisyne, verduidelik hy.  Volgens hom gebeur dit omdat Suid-Afrika nie oor 'n patent-inpseksiestelsel beskik nie en verskeie patente op dieselfde middel gekry word.

Maatskappye verleng sodoende hul monopolie, stuit generiese medisyne en veroorsaak buitensporige pryse vir medisyne, sê hy.  Volgens Vawda behoort die kliniese studies wat deur oorspronklike patenthouers by die Medisynebeheerraad ingedien word, ook aan ander vervaardigers beskikbaar gestel te word wat later generiese weergawes daarvan wil vervaardig om onnodige koste te besnoei.

Op die oomblik moet die Medisynebeheerraad die inligting as streng vertroulik hanteer.  Vawda en Rutter is wel optimisties oor die uitreiking van die Department van Handel en Nywerheid se konsepbeleid oor patentwetgewing in Julie.  Dit is verblydend dat die konsepbeleid uitendelik uitgebrei is.  Ons plaas al seder 2011 druk op die regering om dit te doen.  Ons glo die verandering in die regering se beleid sal groter mededinging in die farmaseutiese sektor teweeg bring en kanker-, TB- en antiretrovirale medisyne meer bekostigbaar maak, sê Vawda.

Comments:

Write new comment:

No comments yet.