Inenting kan lei tot minder Antibiotika

Inenting kan lei tot minder Antibiotika

Deur Elsabe Brits (Volksblad 18 November 2016)

 

Kenners se boodskap tydens Internasionale Antibiotika-bewusmakingsweek is dat inenting keer dat mense en diere siek word en antibiotika nodig het.  'n Doeltreffende manier om die stryd teen gevaarlike antimikrobiese weerstandigheid te pak is om mense en diere in te ent. 

Dit is die boodskap van die Weredgesondheidsorganisasie (WGO) en gesondheidskenners vandeesweek ten tyde van Internasional Antibiotika-bewusmakingsweek.

Inenting keer in die eerste plek dat mense en diere siek word en antibiotika nodig het.  Indien elke kind in die wêreld teen Stretococcus pneumoniae ingeënt word, sal 11 miljoen dae van antibiotika gebruik jaarliks 'gespaar' word, se die WGO.  Dit sal 'n vermindering van van 47% in die gebruik van antibiotika meebring by kinders jonger as vyf wat vir van die infeksies behandel moet word.

Verskeie stamme van die bakterië Streptococcus pneumoniae wat infeksies veroorsaak, het reeds wêreldwyd weerstandig geraak teen een of meer antibiotika.  Babas en mense ouer as 65 kan daarteen ingeênt word, asook mense met bepaalde chroniese siektes.  Volgens die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) is pneumokokkale entstof noodsaaklik vir babas omdat dit beskerming bied teen bakterieë wat verantwoordelik is vir longontsteking en infeksies van die sinus, ore, brein, rugmurg en bloedstroom.

Entstowwe teen virusse soos griep het ook 'n rol om te speel, al help antibiotika nie teen virusse nie.  Die entstof help dat mense siek word en nie antibiotika verkeerdelik wil gebruik nie.  The Lancet het verlede jaar 'n reeks artikels gepubliseer waarin genoem word dat mense se gebruik van antibiotika tussen 2000 en 2010 met 36% toegeneem het.  Die entstof help dat mense siek word en nie antibiotika verkeerdelik wil gebruik nie.

Die topverbruikers is Rusland, Indië, China en Suid-Afrika, wat 'n driekwart van die wêreld se antibiotika gebruik, al verteenwoordig hulle net 40% van die bevolking.  In Indië word die verkope van die middels oor die toonbank swak gereguleer.  Antibiotika word ook vir die behandeling van tuberkulose gebruik.

Die navorsing meld dat Suid-Afrika 'n goeie antibiotika-beheerplan het.  Daar is ook standaardriglyne vir gebruik.  Intussen is daar 'n kommerwekkende toename in tuberkulose wat al hoe minder met beskikbare antibiotika behandel kan word.  Dit word aanbeveel dat ouer mense die pneumokokkale entstof (PPSV23) op 65 kry, selfs al het hulle dit vroeër gehad omdat dit die enigste manier is om die dodelike infeksies te voorkom.  Dit beskerm teen 23 stamme van die bakterieë en beskerming ontwikkel binne drie weke.  Dit dra ook by om die tropweerstand op te bou sodat meer mense beskerm word.

Ek neem antibiotika korrek, kan dit met my gebeur?

Ja, dit kan. Dit is nie die mens wat weerstandig word teen die antibiotika nie, maar die bakterieë.  Gebruik altyd die hele dosis presies soos voorgeskryf.

Waarvoor is antibiotika nie nodig nie?

Volgens die CDC word dit nie aanbeveel vir brongitis, griep, verkoue, borsverkoue, seer keel (met streptokokkus is dit wel nodig), sinus en vloeistof in die middeloor nie.  Dit is wel nodig vir blaasontsteking en kinkhoes (maar vir laasgenoemde behoort kinders ingeënt te word).

Comments:

Write new comment:

No comments yet.