Sakeman loop rieme styf met vals Viagra

Sakeman loop rieme styf met vals Viagra

Deur Maygene de Wee (Volksblad 30 November 2016)

 

"Mense moet nie pille of enige medisyne oor die internet koop nie"

Dit was die woorde van Henk Jones van Brooke International, 'n private speuragentskap, nadat hulle deur 'n sakeman genader is om sy "verskaffer" op te spoor.

Die sakeman, 'n ryk Oostenryker, het 'n paar jaar gelede in Kaapstad kom aftree. Hy woon in een van die voorstede teen Tafelberg se hange.

Hy het 'n advertensie op die internet raakgelees waar Cialis-pille spotgoedkoop verkoop word.  Die Oostenrykse sakeman wou die pille glo aankoop om sy bloedsomloop te reguleer.

Die man wat die pille geadverteer het, is ene Sammy.  Die Oostenryker en Sammy het glo kontak gemaak en e-posadresse uitgeruil.  In een e-pos aan die Oostenryker het Sammy onder meer geskryf dat hy oorspronklike Viagra te koop het.  Teen R50 elk.  Hy het ook goeie dagga-olie te koop.

Volgens Jones het sy kliënt 'n bestelling geplaas en die geld vir die pille betaal.  Hy het glo 'n opsporingsnommer gekry om sy pille by 'n plaaslike PostNet af te haal.

 

Jones wou nie sê hoeveel sy kliënt vir die pille betaal het nie.  "Kom ons sê net dat dit 'n aardige bedraggie is".

 

En volgens Jones is dit hier waar die probleme begin het.  "My kliënt het besef dat die bestanddele van die pille wat hy gekoop het nie die regte bestanddele is nie.  Die pille het ook nie hul werk reg gedoen nie en dit het 'n vervaldatum van etlike maande gelede gehad."

Volgens hom het sy kliënt sy verskaffer gekontak en die pille teruggestuur na 'n PostNet adres wat verskaf is.  "Die pille wat hy teruggekry het, se vervaldatum is net verander," het Jones gesê.

En net daarna het Sammy en sy verskaffer en die Oostenrykse sakeman se geld soos mis voor die son verdwyn.

Jones het gesê hulle het nou al alles in hul vermoë gedoen om Sammy en sy verskaffer op te spoor.  "Maar dis soos om 'n naald in 'n hooimied te soek".

 

Sy waarskuwing aan mense is:  "As jy bloedsomloop-probleme het, gaan sien asseblief jou mediese dokter vir die regte medisyne."

Comments:

Write new comment:

No comments yet.