Kodeïen bekruip jou dalk ongesiens

 Kodeïen bekruip jou dalk ongesiens

 

Uittreksel vanaf Netwerk24.com

Deur Carien Grobler 28 Junie 2017

“My kollegas verwys grappenderwys na my as die lopende apteek. Ek het altyd pynpille, oogdruppels en pleisters byderhand en as jy die dag gelukkig is, ook iets vir slegte spysvertering.”

Die mooi vrou* met die donker hare vee ’n lastige lok weg voordat sy verder vertel.

“Die pynpille kom van my hoërskooldae af, toe ek met chroniese hoofpyn gesukkel het. Ek kan nie onthou dat hoofpyn my lewe op universiteit ontwrig het nie, maar toe ek begin werk, kon ’n hoofpyn voor spertyd nogal ’n spanner in die works wees.”

 

Sy vertel dat sy nog al die jare met pynpille in haar handsak rondloop.

“Toe ek boonop ’n hoër skedule pynmedikasie begin neem weens chroniese rugspasma, was die einde voorspelbaar. Ek het een aand doodluiters op my bed gaan sit toe ek duiselig word en my lippe begin prik. Ek was ’n oomblik lank verbaas en het na my badkamerkassie toe gestap om seker te maak ek het my antidepressant gedrink en het toe weer rustig op die bed gaan sit.”

Die enigste pille wat sy in daardie stadium geneem het, was die antidepressant en pynpille.

“Ek het die voubiljet by die pille uitgehaal, deurgelees en toe ’n huisdokter-vriendin gekontak. Sy het onmiddellik vermoed ek is kodeïenafhanklik en het my aangeraai om die pille onmiddellik te los of geleidelik af te skaal. Ek het verkies om cold turkey te gaan.”

Ek maak dit aan enige dokter duidelik dat ek kodeïenafhanklik is, sodat ek nie per abuis weer daaraan blootgestel word nie.

Met betroubare inligting oor die onttrekkingsimptome het sy haarself met ’n ysere wil en baie bottels water bewapen.

“My vriendin het my gewaarsku teen ‘vals’ onttrekkingsimptome teen dag vier of vyf. Die duiseligheid en mondprikkels was binne ’n week weg en as enige van die simptome weer sy kop uitgesteek het, het ek water gedrink. Die simptome van onttrekking sluit angstigheid, irritasie, slapeloosheid, sweet, ’n versnelde hartklop, verlies aan aptyt, naarheid en braking, maagkrampe, diarree en hoendervleis in.

“Ná daardie week is ek baie versigtig om enige medikasie oor die toonbank te koop. Die rede? Kodeïen kom in ’n verskeidenheid van medikasie voor. Dus vertrou ek my apteker en fynkam ek die voubiljet by enige medikasie wat ek neem. Ek maak dit ook aan enige dokter duidelik dat ek kodeïenafhanklik is, sodat ek nie per abuis weer daaraan blootgestel word nie.

 

Afhanklikheid kan in jou apteek begin

Volgens die Suid-Afrikaanse Independent Community Pharmacy Association (ICPA) roep die meeste mense dadelik beelde van onwettige transaksies op straathoeke op wanneer hulle aan dwelmverslawing dink.

Die wettige roete wat verskeie mense in staat stel om verslawende middels te bekom, is die pad na jou apteek wat medikasie met kodeïen aanhou.

 

 

Wat is kodeïen?

Kodeïen is ’n bestanddeel van medikasie bo skedule twee en kom algemeen voor in middels wat gebruik word vir die behandeling van verkoue en griep, hoes en pyn. ’n Voorskrif is nie nodig om ’n middel met kodeïen te bekom nie.

Kodeïen val onder die kategorie van narkotiese medikasie en is ’n soort opiaat – afgelei van die opiumplant en verwant aan die dwelmmiddel heroïen. Aangesien dit in die klas van die opiate val, het dit ’n soortgelyke invloed op die liggaam as morfien en gee dit aan gebruikers ’n gevoel van kalmte en welstand.

Namate die liggaam aan kodeïen gewoond raak, is hoër dosisse nodig om dieselfde uitwerking te hê. Dit is waar verslawing ’n gevaar word.

Hoe raak ’n mens verslaaf?

Gereelde of langtermyngebruik van medikasie wat kodeïen bevat kan tot verslawing lei. Aangesien verslawing geleidelik plaasvind, is dit dikwels moeilik om die risiko van verslawing te bepaal.

 

Tekens en simptome van kodeïenafhanklikheid

Volgens die ICPA kan mense wat aan kodeïen verslaaf is verskeie tekens en simptome ervaar wat op ’n probleem dui:

* Onttrekking van sosiale aktiwiteite en ’n verlies aan belangstelling in stokperdjies;

* Aanhoudende versoeke vir geld om die verslawing te ondersteun;

* Buierigheid en irritasie;

* Depressie en angstigheid;

* Hallusinasie;

* Moegheid;

* Vel wat jeuk;

* Blouerige skynsel op die lippe en vingernaels;

* Verlies aan eetlus;

* Hardlywigheid;

* Naarheid en duiseligheid; en

* Onbeheerbare spiertrekkings. 

 

Onttrekkingsimptome kan binne ’n week verdwyn, maar dit kan ook maande lank aanwesig wees nadat kodeïengebruik gestaak is. ’n Behoefte aan die middel kan ook heelwat langer as die onttrekkingsimptome aanwesig wees.

 

*Verteller se identiteit is beskerm

*Bron: www.icpa.co.za

 

Comments:

Write new comment:

No comments yet.